Thursday, September 2, 2010

Geen woordeboek?

Wanneer 'n woord oor jou pad kom met 'n spelling waaroor jy onseker is, is daar maniere wat jy jouself kan probeer help - as jy byvoorbeeld nie 'n woordeboek byderhand het nie. 'n Paar wenke wat ek kan gee is:

Gebruik 'n ander taal om jou te help.

Die meerderheid van Suid-Afrikaners beskik oor die vermoë om meer as een taal te praat. As die ander een ons kan help met die belangriker een, hoekom dan nou nie?

Probeer die woord vertaal na Engels, omdat Afrikaans en Engels beide Germaanse tale is, oorvleuel redelik van die woorde. As jy wel die Engelse spelling van die woord ken, kan dit jou help om die spelling van die Afrikaanse woord te kry. Goed, ek bedoel nou nie om anglisisme aan die dag te lê nie, maar vir as jy oor sekere dele van woorde (veral vokale) onseker is. Kyk byvoorbeeld na: 'substituut' of 'substitusie' waar die 'u' en 'i' vokale se klanke in Afrikaans  dieselfde uitgespreek word (as die 'schwa' of foneties neutrale [ə] klank*). Hierdie is 'n algemene verskynsel in Afrikaans. Wanneer dit sukkel om te onderskei, soos met substituut, kan daar na die Engelse 'substitute' gekyk word. Hier is dit duidelik in die 'sub' en 'sti' dat dit onderskeidelik 'n 'u' en 'i' klank moet wees. Dieselfde wenk kan gebruik word in die geval van substitusie waar jy die ronder 'u' en kleiner 'ie' klanke langs mekaar kry - hierdie twee word ook maklik verwar. in 'substitution' se '-tution' kan mens duidelik hoor die eerste vokaalklank daar is 'n 'u'. (En ons weet mos substitusie eindig nie in 'n 'u' klank nie, so dit redeneer ons vir onsself uit.)

Met hierdie wenk -soos dit maar gaan in taal- sal daar natuurlik uitsonderings wees. As studente gewoond is aan die Engelse spelling van die woord 'False', sal die Afrikaanse 'Vals' moontlike gevolge daarvan kan dra - soos ek al te gereeld gesien het.

'n Mens kan hierdie reël verder vat, veral as jy ander Germaanse tale ken. Vat byvoorbeeld die groot bekende, Duits. Hier wil ek graag 'n Duitse en Afrikaanse woord met dieselfde semantiese betekenis langs mekaar stel om 'n fout wat algemeen gemaak word in Afrikaans, tereg te stel.
Afrikaans: Fout: 'Trug' - Teiken: 'Terug'
As mens dan kyk na die Duitse ekwivalent daarvan, zurück, is daar in die Duitse weergawe 'n definitiewe uitspraak van die eerste 'u' vokaal. Kennis hiervan, glo ek, sal hierdie tipe foute in Afrikaans kan voorkom.

Breek die woord op.

Tweedens kan mens altyd net die woord opbreek. Selfs as dit nie so lank is nie. Mens kan eerstens 'n woord opbreek in lettergrepe, of sillabes, soos die voorbeeld in 'n vorige 'post' - VERRASSING. Hier kan jy d.m.v die opbreek van die 3 sillabes maklik vind dat dit wel ver-ras-sing is, en nie ver-as-sing, ver-ra-sing, of ve-ra-sing is nie.

Verder kan jy - indien moontlik - die woord onder verdenking opbreek in verskillende woorddele wat betekenis dra. Met 'n woord soos 'handdoek' het ek al gereeld die foutiewe spelling met net een 'd' gesien. Hier kan jy die woord opbreek na 'hand' en 'doek' om die proses te vergemaklik. Let hier op dat jy moet seker maak van 'n woord: kyk byvoorbeeld na die woord 'vadoek', omdat 'handdoek' van 'hand' en 'doek' uitgemaak word, kan 'n mens miskien dink dat vadoek gevolglikg 'vat' en 'doek' sal wees. Uhm, ja dit is nie.

Nog 'n fout wat ek gereeld teëkom, wat ook met hierdie wenk maklik tereggestel kan word, is die woord 'gewelddadig', wat al te gereeld net een 'd' inhet. Gewelddaad, bestaan uit die twee naamwoordelike stamme, 'geweld' en 'daad' (wat dan natuurlik verbuig kan word na gewelddadig) wat verwys na 'n daad van geweld. Pas ook tog nou op om nie in jou nuutgevonde kennis 'n foute soos 'gewelddig' (x) in plaas van 'geweldig' sal pleeg nie. :)

Maak 'n verbuiging van jou woord:

Baiekeer as mens 'n verbuiging van die woord maak, soos die woord verander van 'n naamwoord na 'n byvoeglike naamwoord, kan die nuwe spelling help om die oorspronklike een duidelik te maak. Kom ons kyk na 'n voorbeeld wat ek klaar gebruik het, 'substituut' en 'substitusie.' Gestel jy is onseker oor substitisie/substitiesie/substitusie (want ek het al al drie hierdie opsies raakgelees...). As ons dan dink aan moontlike verbuigings hiervan (omdat ons weet dat die verbuiging van 'n woord ons kan help) kom die ander gegewe opsie, 'substituut', na vore.

Ons twee hoofopsies sal dan wees:  Substitiet en substituut (ek dink dis veilig om aan te neem 'n mens sal nie wonder oor substitit / substitiit nie...).  Omdat ons weet substituut eindig nie met die vier letters: TIET nie, dan kry ons die regte opsie, deur middel van uiskakeling van verkeerde spelling. YaY!

Daar is natuurlik ander maniere wat mens ook tewerk kan gaan om self by die korrekte spelling van 'n woord te kom, maar die doel van hierdie post is om te bewys dat daar maniere is wat 'n mens op jou eie die regte opsie kan kry. As jy nie weet nie, moet dit nie net aanvaar, los en aangaan met jou lewe nie. Gaan tot aksie! :)




* 'Substituut' se fonetiese uitspraak, volgens die Internasionale fonetiese alfabet (IPA) is as volg: [səbstətysi] Hier kan 'n mens sien dat die 'u' en 'i' klank van die woord, substituut, dieselfde uitgespreek word.

No comments:

Post a Comment