Thursday, September 2, 2010

HELP

Iets wat ek op 'n gereelde basis hoor: "Dankie vir die help," "Ek kort jou help asseblief!" ens.
Kom ons kyk na HELP en HULP. Die maklikste (en enigste) manier om die twee te onderskei, is om te weet watter een behoort aan watter woordsoort.

HELP - WERKWOORD (aksie)  
HULP - NAAMWOORD (ding)


In die eerste raam vra JakkalsDaan vir MeerkatTjat om hom te help om 'n mini Stonehenge te bou. Help is hier die aksie- en dus die werkwoord. MeerkatTjat HELP dan vir JD, en in die tweede raam bedank (hier is die werkwoord in die sin nou) JD vir MeerkatTjat se HULP (-nou is dit 'n ding of 'n naamwoord).

Wanneer jy onseker is, probeer 'n lidwoord (die / 'n) voor die woord sit. As dit werk (soos met die hulp), dan is die woord na die lidwoord definitief 'n naamwoord. Die help is ONGRAMMATIKAAL.


Ooh. N.S. 'n oulike byvoeglike naamwoord waarin mens 'help' kan verbuig is GEHOLPE.
Winkelier: "Ekskuus tog, kan ek help?"
JY: "Nee dankie. Ek is klaar geholpe!"

Hysbak

Of bloot net 'n 'hyser' kom van die werkwoord: 'hys' wat beteken om iets op te trek of op te haal. 'n Mens hys  byvoorbeeld 'n vlag by 'n vlagpaal op.
So kan 'n mens redeneer dat 'n hysbak 'n bak is wat mense neem en dan opgehys word na die volgende verdiepings

Ander spellings en uitsprake het ek al gehoor as 'huisbak', en ons almal weet hoe 'n huis en 'n bak lyk... As ons alles nou letterlik opneem sal dit 'n bietjie soos volg lyk:

Eekhoring

Okay dis okay as 'n kind nog sê 'eetkoring', want kinders mag foute maak. It's cute, but it's wrong. Ek hoor volwassenes nog allerhande verkeerde weergawes gebruik. Dit voel snaaks, maar die woord 'horing' is deel van die meneer se naam.

Dis eintlik cool want uiteindelik kan ons almal in die wêreld se gunsteling dier meng met 'n alledaagse knaagdiertjie (behalwe as hy 'n albino is, dit sal awesome wees!) om die situasie 'n bietjie meer opwindend te maak.
Ontmoet die 'eenhoorn eekhoring.' (Eenhoorn is Afrikaans vir unicorn so vir die rekord.)



So sien, dis niks van 'eetkoring' of 'eetkore' of 'eekoren' of 'eekoring' nie.
Dis heel eenvoudig die lekkerste manier om dit te spel: EEKHORING.

Geen woordeboek?

Wanneer 'n woord oor jou pad kom met 'n spelling waaroor jy onseker is, is daar maniere wat jy jouself kan probeer help - as jy byvoorbeeld nie 'n woordeboek byderhand het nie. 'n Paar wenke wat ek kan gee is:

Gebruik 'n ander taal om jou te help.

Die meerderheid van Suid-Afrikaners beskik oor die vermoë om meer as een taal te praat. As die ander een ons kan help met die belangriker een, hoekom dan nou nie?

Probeer die woord vertaal na Engels, omdat Afrikaans en Engels beide Germaanse tale is, oorvleuel redelik van die woorde. As jy wel die Engelse spelling van die woord ken, kan dit jou help om die spelling van die Afrikaanse woord te kry. Goed, ek bedoel nou nie om anglisisme aan die dag te lê nie, maar vir as jy oor sekere dele van woorde (veral vokale) onseker is. Kyk byvoorbeeld na: 'substituut' of 'substitusie' waar die 'u' en 'i' vokale se klanke in Afrikaans  dieselfde uitgespreek word (as die 'schwa' of foneties neutrale [ə] klank*). Hierdie is 'n algemene verskynsel in Afrikaans. Wanneer dit sukkel om te onderskei, soos met substituut, kan daar na die Engelse 'substitute' gekyk word. Hier is dit duidelik in die 'sub' en 'sti' dat dit onderskeidelik 'n 'u' en 'i' klank moet wees. Dieselfde wenk kan gebruik word in die geval van substitusie waar jy die ronder 'u' en kleiner 'ie' klanke langs mekaar kry - hierdie twee word ook maklik verwar. in 'substitution' se '-tution' kan mens duidelik hoor die eerste vokaalklank daar is 'n 'u'. (En ons weet mos substitusie eindig nie in 'n 'u' klank nie, so dit redeneer ons vir onsself uit.)

Met hierdie wenk -soos dit maar gaan in taal- sal daar natuurlik uitsonderings wees. As studente gewoond is aan die Engelse spelling van die woord 'False', sal die Afrikaanse 'Vals' moontlike gevolge daarvan kan dra - soos ek al te gereeld gesien het.

'n Mens kan hierdie reël verder vat, veral as jy ander Germaanse tale ken. Vat byvoorbeeld die groot bekende, Duits. Hier wil ek graag 'n Duitse en Afrikaanse woord met dieselfde semantiese betekenis langs mekaar stel om 'n fout wat algemeen gemaak word in Afrikaans, tereg te stel.
Afrikaans: Fout: 'Trug' - Teiken: 'Terug'
As mens dan kyk na die Duitse ekwivalent daarvan, zurück, is daar in die Duitse weergawe 'n definitiewe uitspraak van die eerste 'u' vokaal. Kennis hiervan, glo ek, sal hierdie tipe foute in Afrikaans kan voorkom.

Breek die woord op.

Tweedens kan mens altyd net die woord opbreek. Selfs as dit nie so lank is nie. Mens kan eerstens 'n woord opbreek in lettergrepe, of sillabes, soos die voorbeeld in 'n vorige 'post' - VERRASSING. Hier kan jy d.m.v die opbreek van die 3 sillabes maklik vind dat dit wel ver-ras-sing is, en nie ver-as-sing, ver-ra-sing, of ve-ra-sing is nie.

Verder kan jy - indien moontlik - die woord onder verdenking opbreek in verskillende woorddele wat betekenis dra. Met 'n woord soos 'handdoek' het ek al gereeld die foutiewe spelling met net een 'd' gesien. Hier kan jy die woord opbreek na 'hand' en 'doek' om die proses te vergemaklik. Let hier op dat jy moet seker maak van 'n woord: kyk byvoorbeeld na die woord 'vadoek', omdat 'handdoek' van 'hand' en 'doek' uitgemaak word, kan 'n mens miskien dink dat vadoek gevolglikg 'vat' en 'doek' sal wees. Uhm, ja dit is nie.

Nog 'n fout wat ek gereeld teëkom, wat ook met hierdie wenk maklik tereggestel kan word, is die woord 'gewelddadig', wat al te gereeld net een 'd' inhet. Gewelddaad, bestaan uit die twee naamwoordelike stamme, 'geweld' en 'daad' (wat dan natuurlik verbuig kan word na gewelddadig) wat verwys na 'n daad van geweld. Pas ook tog nou op om nie in jou nuutgevonde kennis 'n foute soos 'gewelddig' (x) in plaas van 'geweldig' sal pleeg nie. :)

Maak 'n verbuiging van jou woord:

Baiekeer as mens 'n verbuiging van die woord maak, soos die woord verander van 'n naamwoord na 'n byvoeglike naamwoord, kan die nuwe spelling help om die oorspronklike een duidelik te maak. Kom ons kyk na 'n voorbeeld wat ek klaar gebruik het, 'substituut' en 'substitusie.' Gestel jy is onseker oor substitisie/substitiesie/substitusie (want ek het al al drie hierdie opsies raakgelees...). As ons dan dink aan moontlike verbuigings hiervan (omdat ons weet dat die verbuiging van 'n woord ons kan help) kom die ander gegewe opsie, 'substituut', na vore.

Ons twee hoofopsies sal dan wees:  Substitiet en substituut (ek dink dis veilig om aan te neem 'n mens sal nie wonder oor substitit / substitiit nie...).  Omdat ons weet substituut eindig nie met die vier letters: TIET nie, dan kry ons die regte opsie, deur middel van uiskakeling van verkeerde spelling. YaY!

Daar is natuurlik ander maniere wat mens ook tewerk kan gaan om self by die korrekte spelling van 'n woord te kom, maar die doel van hierdie post is om te bewys dat daar maniere is wat 'n mens op jou eie die regte opsie kan kry. As jy nie weet nie, moet dit nie net aanvaar, los en aangaan met jou lewe nie. Gaan tot aksie! :)




* 'Substituut' se fonetiese uitspraak, volgens die Internasionale fonetiese alfabet (IPA) is as volg: [səbstətysi] Hier kan 'n mens sien dat die 'u' en 'i' klank van die woord, substituut, dieselfde uitgespreek word.

Tuesday, August 31, 2010

Hees

Min van die studente kon die een spel met my weeklikse ek-weet-nie-hoe-om-die-tyd-vir-die-klas-op-te-gebruik-nie-so-nou-doen-ek-'n-speltoets-Speltoets. Ek dink eintlik dis goed om gereelde speltoetse te hê - ek gee immers taal. Spelvaardighede is baie vinnig en baie seker besig om te kwyn, wat onverskoonbaar is.
'n Hele paar van die studente het dit as "jis" geskryf, na aanleiding van die uitspraak ek hoop.



Dan kan mens kyk na nog 'n homoniem hiervan: HEUS. Hierdie bywoord kan in die plek van "werklik" of "regtig" gebruik word.
"Ek kan jou heesheid heus nie glo nie!"

Akademie

Sjoe, hierdie is een waarmee my studente gereeld sukkel. Almal ploeter net met 'ak(k)edemie' voort.
Nou goed. Hier is twee terme waartussen daar onderskeid getref moet word wat spelling betref.
HIERDIE is 'n Akkedis.
Verskoon sy ietwat minder nugter gesigsuitdrukking, maar LET WEL op sy spelling.


Want hier volg:







Die Akademikus!
Hierdie is ons AKAdemikus, AKA MeerkatTjat.









Nou kan ons die twee karakters bymekaarsit:




 So ons kan twee dinge hieruit leer, een is dat KAKEdemikus DOM sal klink - en ook AKEdemikus (WAT VERKEERD IS). So gooi hom 'n KAKA-demikus ook bekend as (aka) AKAdemikus ook bekend as (aka) die persoonsnaamwoordvorm van die naamwoord: AKAdemie.

Tweedens leer ons: 'when in argument, insult the face'. Ma's is uit, gesigte is die weg om te kies!
Dis ook maar 'n goeie ding MierPeter het ingespring met (wat almal weet is) die 'ultimate comeback.'
As enige iemand jou beledig en jy weet nie hoe om te reageer nie, sit die Tjat in MeerkatTjat en gaan kop aan kop.
BV. as my studente vir my sê dat die werk boring is, reageer ek net met "Julle gesigte is boring" en dan kan hulle NIKS vir my sê nie.
Ah ek geniet AkAdemia!

Monday, August 30, 2010

VERRASSING

Hiermee, een van my gunstelinge. Ek dink die voorbeelde sal dit beter verduidelik...

Eerstens, die korrekte spelling:

Hierna kan daar 'n hele paar verskillende spellings vir hierdie lekker woord wees, kom ons begin by die weergawe met net een R:

Hier kan jy mos nou dit vir jouself uitwerk deur oldskool-style die lettergrepe uit te sonder (klap hande indien nodig): ver-as-sing.

Die weergawe met net een S:


Goed hierdie woord bestaan nie in Afrikaans nie, maar as ons die voorvoegsel 'ver-' voor die werkwoord 'raas' sit, en daarvan 'n naamwoord ('verrasing') maak,  kan ons mos aflei dat dit so iéts sal kan beteken (wat nie VERRASSING is nie- en dit is mos nou die doel van hierdie aktiwiteit).

En laastens, die weergawe wat albei die foute wat hierbo begaan is, kombineer, naamlik verasing:

Okay so die werkwoord veraas bestaan ook nie, maar as ek die spelling 'verasing' sien, is hierdie tipe prentjie die eerste een wat by my opkom. Om letterlik iets te gebruik as aas - oftewel iets ver-aas.